Oproep om voorstelle

Geworteldheid: die onderrig van Afrikaans in spesifieke ruimtes

Tydens die Ontlaeringkollokwium wat in Januarie 2020 op die Qwaqwa-kampus van die UVS plaasgevind het, is die onderwerp van Afrikaans se geplaastheid verskeie kere geopper. Dit ten spyte van die feit dat die tema van die kollokwium “transnasionalisme” was.  Die klein, kreoolse taal Afrikaans het haar gekompliseerde oorsprong in Suid-Afrika en Afrika, wat beteken dat dit van die begin af, en vandag steeds, onherroeplik vervleg is met die ruimte waarbinne dit bestaan, sowel as met die Europese en Asiatiese ruimtes wat ʼn invloed op die ontstaan daarvan gehad het. Afrikaans in Suidelike Afrika word verder gekenmerk deur ’n verskeidenheid variëteite wat in verskillende areas gelokaliseer is. Afrikaans is dus gewortel in Suidelike Afrika, van waar dit risomaties verbind is aan ander wêrelddele. Die lokale en globale verskeidenheid wat die taal kenmerk, beteken dat Afrikaans as taal, en ook die letterkunde wat in die taal geskryf word, nie op alle plekke dieselfde ondersoek en onderrig kan word nie. 

Teoretici soos Kobialka (2012), Lefebvre (1991) en Smith (2012) tref ’n onderskeid tussen ‘plek’ en ‘ruimte’: plek is die fisiese area, terwyl ruimte die abstrakte betekenisse is wat aan areas geheg word. Hierdie betekenisse kan onder meer polities, kultureel of emosioneel wees. Dit behels ook die ervarings van mense wat in ’n ruimte arriveer, of daarheen terugkeer, hoe die betekenis wat mense aan ruimtes heg in taal en letterkunde neerslag vind, hoe daar persoonlike kontak is tussen ’n persoon of groepe persone en die ruimtes waarbinne hulle beweeg en tale gebruik. Die konsep van ruimte maak dus baie moontlikhede oop vir letterkundige en taalkundige navorsing. Wat plek betref, kan daar onder meer verwys word na ekokritiese letterkundige navorsing wat fokus op die materialiteit van ’n plek en die belang daarvan buiten wat dit vir die mens beteken. 

Wanneer die geplaastheid van Afrikaans bestudeer word, is liggaamlikheid ook ’n belangrike konsep. ’n Mens se kognitiewe funksies en die manier waarop sin gemaak word van die self en die verhouding van die self tot ’n fisiese omgewing word op beliggaamde (“embodied”) wyse ervaar. Daarmee saam is ’n mens ingebed of ingeplaas (“embedded”) as ’n persoon-in-die-wêreld en dit het ’n invloed op hoe ’n persoon sigself bewustelik ervaar en definieer. So sal die ervaring van ’n Afrikaanssprekende ten opsigte van identiteit en taal sterk beïnvloed word deur die beliggaming en ingeplaastheid van die persoon in spesifieke plekke of ruimtes.

Die mens se verbintenis met hul omgewing word ook in die pedagogiek benadruk. Lev Vygotsky (1978:57) se sosiokulturele teorie lokaliseer die beginpunt van kognitiewe ontwikkeling tot die student se sosiokulturele konteks. ’n Student beliggaam hul sosiokulturele agtergrond en steun op kulturele artefakte soos taal om sin te maak van die wêreld (Lantolf & Thorne, 2006:201). Hierdie verbintenis tussen die spreker, taal en plek/ruimte skep produktiewe moontlikhede om na te dink oor hoe ’n pedagogie van geplaastheid of ingeplaastheid gedefinieer kan word, beide wat die letterkunde en die taalkunde betref. Nog vrae ontstaan rondom hoe die spesifisiteit van Afrikaans in sig uiteenlopendheid onderrig kan word, terwyl daar ook aandag aan transnasionale en globale strukture gegee word.

Die Covid-19-pandemie het opnuut die maniere waarop daar gedink word oor die verhoudings tussen die plaaslike en die globale, sowel as oor onderrig, verskuif. Die meeste mense wêreldwyd is tans beperk tot hulle onmiddellike omgewing, as gevolg van ’n virus wat danksy globalisering vinnig oor die aardbol versprei het. Terselfdertyd is die meeste mense in die wêreld ook deur die internet  aan mekaar verbind. ’n Interessante spanning ontstaan dus tussen ’n herwaardering (en frustrasie met) plaaslike gewortelheid en globale netwerke. Dosente (ook dosente wat oor die wêreld heen Afrikaanse taal- en letterkunde doseer) moes die maniere waarop hulle klasgee herbedink deurdat lesings aanlyn plaasvind. Akademiese kongresse moes ook herverbeel word en in die lig van onsekerheid oor wanneer ’n entstof beskikbaar sal wees, het ons besluit om ook die 2021 Ontlaeringkollokwium aanlyn aan te bied.

Met hierdie konsepte en konteks in gedagte, is besluit dat die volgende Ontlaeringgeleentheid spesifiek op geplaastheid en die idee van geworteldheid sal fokus, deur middel van aanlynmedia. Ons het ook besef dat hierdie onderwerp veel wyer uitkring as die letterkunde. Daarom is besluit dat die derde Ontlaeringgeleentheid nie net op letterkunde sal fokus nie, maar dat ’n ruimte geskep sal word waarbinne Afrikaans se verskillende geworteldhede interdissiplinêr ondersoek kan word. Voorstelle uit verskillende vakdissiplines wat op ingeplaastheid, pedagogie en Afrikaans fokus, word verwelkom.

Vrae en onderwerpe wat moontlik ondersoek kan word, sluit die volgende in:

  • Wat is die verskil tussen plek en ruimte wanneer ’n mens nadink oor Afrikaans se geplaastheid?
  • Hoe verstaan ons geplaastheid teenoor ingeplaastheid (“situatedness”)?
  • Watter aspekte van ’n plek en die kultuur van daardie plek oefen ’n invloed uit op die onderwyser, leerders, dosente en studente wat ’n teks en of taalverskynsel ondersoek?
  • Watter aspekte van ’n plek beïnvloed die teks en taalverskynsel self?
  • Hoe kan daar besin word oor die onderrig van ’n kleiner taal soos Afrikaans binne ’n globale konteks, waarin faktore soos die kapitalistiese aard van die uitgewersbedryf en globale kulturele uitruiling ’n rol speel?
  •  Watter uitdagings en moontlikhede behels die skuif na e-leer vir die onderrig van Afrikaans?
  •  Speel plek en plaaslikheid steeds ’n rol in digitale pedagogiek? En spesifiek in die onderrig van Afrikaanse taal en letterkunde?
  • Hoe kan ons nadink oor die spanning tussen die plaaslike en die globale wat die onderrig van Afrikaans as vakdissipline betref?
  • Hoe kan laers soos “standaardafrikaans” en die “kanoniese letterkunde” ontlaer word op maniere wat beide skakel met ander tale en kulture én aandag gee aan die behoeftes van die hiperplaaslike?
  • Hoe kan besin word oor die liggaamlike (beliggaming en individuele mense se liggaamlike ervaring) wanneer dit gaan oor Afrikaans en die onderrig van Afrikaans?

Oor die Ontlaeringprojek:

Geworteldheid: die onderrig van Afrikaans in spesifieke ruimtes is deel van ’n groter, meerjarige projek wat geleenthede bied om die pedagogiek van Afrikaanse letterkunde te herverbeel. Die eerste geleentheid het gedraai rondom Afrikaanse letterkunde, pedagogiek en burgerskap. Die twee se titel was Transnasionale pedagogiek: Afrikaans & X. Uit hierdie twee suksesvolle geleenthede sal twee spesiale uitgawes van akademiese joernale (Stilet en Tydskrif vir Letterkunde) eersdaags verskyn. Die 2021-kollokwium sal aanlyn aangebied word. Besonderhede oor hoe dit sal geskied sal vroegtydig aan alle deelnemers en bywoners gekommunikeer word.

Oproep om voorstelle:

Voorleggings van tot 300 woorde word ingewag teen 31 Januarie 2021 by unlaagering@gmail.com. Ons nooi veral opkomende akademici, en navorsers en dosente wat in België, Nederland, Pole, Aruba, VSA, en Namibië met/oor Afrikaans werk om deel te neem. 

Verwysings:

Kobialka, M. 2012. Of space forevermore. Forum: University of Edinburgh Postgraduate Journal of Culture & the Arts 10: 1–13.

Lantolf, J. P. & Thorne, S. L. 2006. Sociocultural Theory and Second Language Learning. In: Van Patten, B. & Williams, J. (reds.). Theories in second language acquisition. Mahwah: Lawrence Erlbaum Associates.

Lefebvre, H. 1991. The Production of Space. Vertaal deur D. Nicholson-Smith. Oxford: Blackwell Publishers.

Smith, S. 2012. Plek en ingeplaaste skryf. ’n Teoretiese ondersoek na ingeplaaste skryf as ekopoëtiese skryfpraktyk. LitNet Akademies, 9 (3): 887–928.

Vygotsky, L. 1978. Mind in Society—The Development of Higher Psychological Processes. Cambridge: Harvard University Press.